GOD MOET WAARAGTIG WEES...
  Ek dink terug aan my studies in my vroeë twintigerjare in die Wysbegeerteklas (Filosofie). Die professor, ’n baie kleurvolle persoonlikheid vol wyshede, het ons aandag altyd gevange gehou. Hy het by geleentheid vertel dat die derdejaars aan hom ’n wonderlike afskeids-geskenk gegee het waaroor hy gaande was. Natuurlik wou ons graag weet WAT die geskenk was.
Aanvanklik was ek nogal teleurgesteld toe ek hoor dit is ’n WINKELHAAK! Later sou die volle bete-kenis daarvan eers by my insink toe ek ernstig daaroor begin nadink het. ’n Winkelhaak word gebruik wanneer ons ’n maatstaf soek om te bepaal of iets reguit (“square”) is. Vir die ambagsman wat iets bou of maak, is dit onontbeerlik. Die fondament van ’n gebou kan nie sonder ’n winkelhaak reghoekig en stabiel gebou word nie. ’n Tafel of ’n kas kan nie haaks gemaak word sonder ’n winkelhaak nie. En so het ons ook ’n maatstaf nodig om ons lewens “haaks” te bou.
Daarom sê die Woord in Rom. 3:4 - “Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig…” (OV). Die Nuwe Vertaling lui soos volg: “Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ’n leuenaar.” En die Lewende Bybel: “God sal altyd getrou bly, al sou elke mens op aarde ’n leuenaar wees.” Dit lees so mooi in die “New King James Version”: “Indeed, let God be true but every man a liar.” God Sélf is ons Maatstaf wanneer ons wil weet hóé ons ons lewens moet bou!
Die woorde “waaragtig”, “betroubaar”, “getrou” of “true”, is maar net verskillende vertalings van die Griekse woord alethes wat in die oorspronklike teks gebruik word en het verskillende betekenis-moontlikhede. Volgens die Griekse woordeboek kan dit o.a. beteken: “true, sincere, truthful, frank, honest.”
Die woord alethes is ook die teenoorgestelde van valsheid, iets wat bedek of weggesteek word (d.w.s. iets oneg), asook menslike onbesten-digheid of menslike inkonsekwentheid.
God is getrou aan Sy beloftes en kan nie soos die mens ontrou of inkonsekwent (onbestendig) wees nie. Daarom kan ons gerus wees dat God in verhouding tot ons NOOIT onbestendig kan wees soos mense nie. Daar staan in 2 Tim. 2:13 - “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” Selfs ons ontrouheid maak Hom nie ook ontrou nie.
Maar verder ook die voorbeeld van die winkelhaak: Indien ons in ’n noue verhouding met Hom (wil) leef, sal ons inkonsekwentheid in die lig van Sy konsekwentheid geopenbaar word. Waar hierdie openbaring kom, kan ons maar net op ons knieë voor Hom neerval, ons swakheid bely en Hom vra om ons in Jesus Christus te vergewe en ons lewens “haaks” te maak sodat ons Hom kan behaag. En hy wat dáár gekom het, het al ver gevorder op die pad van die lewe en van heiligmaking. Ons lewe kán met Sy winkelhaak weer reguit gemaak word!

Indeks     Index